POSITIEF  |   ENERGIEK  |  KREATIEF

BIO

Riaan Grobler is ’n veelsydige Afrikaanse kunstenaar wat in verskillende genres presteer. Hy is skrywer, radio- en televisieaanbieder, sanger, akteur en seremoniemeester wat hom oor die jare as ’n geliefde naam in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf gevestig het.

Gebore: Pietersburg (Polokwane, Limpopo Provinsie)

Matrikuleer: Pietersburg Hoërskool

Tuisdorp: Pretoria

As aanbieder- en vervaardiger van Die Groot Ontbyt op kykNET en die vervaardiging en aanbieding van Hollywood, hier kom ek op VIA en ander TV-produksies, het hy bekendheid verwerf.

Riaan het ’n veelsydige loopbaan in die uitsaaiwese gebou. Sy loopbaan het in 2005 by Rippel 90.5 begin, waarna GROOTfm 90.5 gevolg het. Na byna agt jaar by Pretoria FM het hy by RSG aangesluit waar sy kennis van musiek, hartlike persoonlikheid en liefde vir Afrikaans steeds tot sy openbare profiel bydra. Sy ervaring as aanbieder, akteur en verhoogpersoonlikheid maak van hom ’n natuurlike kommunikeerder wat gemaklik met gehore van verskillende ouderdomme skakel.

In onlangse jare het Riaan as geliefde skrywer sy voete gevind. Sy debuutroman, Geheime op Philadelphia, het ’n nuwe kreatiewe hoofstuk in sy loopbaan ingelei. Daarna het Hospitaal Weltevreden gevolg, wat sy posisie as gewilde Afrikaanse fiksieskrywer verder gestaaf het. Met Die avonture van Helga Roets word humor, emosie, menslikheid en ‘n nuwe begin beklemtoon.

As sanger is Riaan bekend vir musiek wat eerlik is en die luisteraar emosioneel saamneem. Liefde, verlange en hoop vorm die kern van sy liedjies. Sy musiekloopbaan sluit albums en enkelsnitte soos Sewe Dae En Sewe Nagte, Alles, Liefdeshartaanval en die 2024-album Moskonfyt in. Met liedjies soos “Liefdeshartaanval”, “Vat 5”, “’n Dag Sonder Jou”, “Somewhere Between” en “Toe Val Ek Weer” het hy ’n klank geskep wat gemaklik tussen Afrikaanse kontemporêre musiek, storievertelling en luistervriendelike vermaak beweeg.

Wat Riaan Grobler besonders maak is sy vermoë om oor verskillende platforms dieselfde waardes te behou: hy vertel stories. Of dit deur ’n lied, ’n radiogesprek, ’n verhoogoptrede, ’n sosiale media-inskrywing of ’n roman is. Sy werk toon ’n eerlikheid wat sy aanhangers laat luister, glimlag en hulself daarin herken.

Riaan Grobler se vermoë om sy kreatiwiteit en liefde vir Afrikaans aan aanhangers oor te dra, maak van hom ’n gunsteling op elke verhoog. Hy vermaak, hy beindruk en hy voeg waarde tot elke geleentheid toe.

Met sy kombinasie van ervaring, kreatiwiteit en opregte liefde vir Afrikaans bly Riaan Grobler ’n kunstenaar wat nie net vermaak nie, maar ook verbind.

Portefeulje

“My drome maak my soms bang. Maar anders is dit mos nie groot genoeg nie?”

“My drome maak my soms bang. Maar anders is dit mos nie groot genoeg nie?” vertel Riaan. Sy persoonlike leuse is: “Om nie te waag nie, is om die onberekenbare skade te ly van om nooit te weet wat kon gewees het nie”.

Riaan Grobler leef sy droom in verskeie aspekte van die vermaaklikheidswêreld… Die interaksie met ‘n gehoor is vir hom tydens elke optrede, nog altyd die hoogtepunt. As daar reaksie vanuit ‘n gehoor is, kry daardie optrede vlerke! Die meeste van sy musiek handel oor die liefde, want hy glo dat mense almal op een of ander vlak daarmee kan identifiseer.

Riaan hou vol dat liefde tog ook
geluk is, al is dit nie altyd
gelukkig nie – is dít die einddoel.

GEWILDE FOTOS

Deur die jare het Riaan Grobler die voorreg gehad om saam met van Suid-Afrika se mees geliefde kunstenaars en vermaaklikheidspersoonlikhede te werk. Elke foto vertel ’n storie van gedeelde ervarings, kreatiewe samewerking en die besondere mense wat sy pad in die bedryf gekruis het. Hierdie oomblikke vier nie net sukses nie, maar ook die vriendskappe, inspirasie en herinneringe wat oor jare in die vermaaklikheidswêreld opgebou is.