POSITIEF, ENERGIEK & KREATIEF

Drie woorde wat dié talentvolle Riaan Grobler die beste beskryf. “My drome maak my soms bang. Maar anders is dit mos nie groot genoeg nie?” vertel Riaan.  Sy persoonlike leuse is: “Om nie te waag nie, is om die onberekenbare skade te ly van om nooit te weet wat kon gewees het nie”. Riaan Grobler leef sy droom in verskeie aspekte van die vermaaklikheidswêreld… Die interaksie met ‘n gehoor is vir hom tydens elke optrede, nog altyd die hoogtepunt. As daar reaksie vanuit ‘n gehoor is, kry daardie optrede vlerke! Die meeste van sy musiek handel oor die liefde, want hy glo dat mense almal op een of ander vlak daarmee kan identifiseer. Riaan hou vol dat liefde tog ook geluk is, al is dit nie altyd gelukkig nie – is dít die einddoel.

Riaan is gebore op 19 November 1980 en het in Pietersburg groot geword, waar hy skool gegaan het te Laerskool Piet Hugo. Sy skoolloopbaan is voltooi aan die Hoërskool Pietersburg in 1998. Tydens sy matriekjaar neem hy in Los Angeles deel aan die Wêreld Kampioenskappe vir uitvoerende kunste se sangafdeling en wen verskeie goue medaljes! Hierdie het sy loopbaankeuse bevestig en was hy nog nooit spyt nie. Nadat Riaan aan die gewilde Supersterre kompetisie deelgeneem het, stel hy sy debuut CD ‘Jy is Myne’ op 5 Junie 2006 vry.  Op die album is 15 snitte, waarvan Riaan self die titelsnit geskryf het. Hy gebruik ook die voorreg om ‘n duet, First Kiss Goodnight, saam met ‘n goeie vriendin, asook Mej SA 2003 en TV-aanbieder, Cindy Nell, op te neem. Einde 2006 voltooi hy sy drama diploma by die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Gedurende daardie drie studiejare was hy te sien in verskeie teaterproduksies, onder andere “A Patch of Earth”, “Fiela se ‘ander’ Kind” en “Diepe Grond”. In 2007 neem hy weer deel aan Supersterre en land onder die Top 25 uit duisende inskrywings.

Riaan maak sy debuut as professionele akteur in die Performer Teater se musikale blyspel, “The Wedding”, as die bruidegom se broer, Benjamin. Die produksie was uiters populêr en was vir 6 maande op die planke! In Mei 2008 word sy tweede CD, “Sewe Dae en Sewe Nagte”, deur Gallo Records vrygestel. Hierdie keer skryf hy verskeie van die snitte self en neem weer ‘n duet met Cindy Nell op, “Ek Het Jou Nodig”, geskryf deur Nedine Blom. Die titelsnit word ook ingeskryf vir Eurostar Contest en hy eindig in die derde plek! “Net Hier By My”, tref die rakke in Augustus 2009. Behalwe dat die titelsnit ‘n volslae radiotreffer is, is “Was Dit Dalk Te Laat” ook op almal se lippe met groot opslae. Riaan doen ‘n pragtige duet saam met vervaardiger Werner Beukes, getiteld “Vergewe My Nou”, asook asemrowende weergwes van Bles Bridges se “Fight for Love” en Dana Winner se “Droom van my Geluk”. “Rêrig êrig” word ‘n hervrystelling van sy vorige album, “Net Hier By My”, in 2011. Hierop is vier splinternuwe dans-treffers waaronder die titelsnit “Rêrig êrig”, “In Hollywood” en “Die Hemel Gooi Sy Sterre”.  Hierdié liedjies is Eurvision-verwante liedjies en die bekende diva Sarah Theron het vir Riaan Afrikaanse lirieke vir die liedjies geskryf…

Sy vyfde album, getiteld “Dis Die Liefde” verskyn in September 2015 op die rakke en word deur WOW Distribution versprei. Hierdie album is vir Riaan ‘n baie spesiale album en bevat 16 snitte, wat insluit 4 duette met onder andere Juanita du Plessis “Laat my lewe, laat my liefhê”, Nadia Beukes “Drie wense”, David Fourie “Karoonag” en Rinél Day “Mi Amore”. Laasgenoemde duet met Rinél Day is die eerste radio enkelsnit, wat by verskeie radiostasies in Suid Afrika die treffersparades steeds haal. Sarah Theron span weer haar pen in en skryf lirieke vir onder andere die titelsnit, “Dis Die Liefde” asook “Rooi Granaat”, “Liedjie Vir Vrede”, “Elke Dag Is ‘n Geskenk”, “Kinderjare” en “Jakarandstad”.

Riaan gaan in 2016 deur ‘n geweldige persoonlike en tragiese ervaring met sy ma wat baie siek word en skielik in April 2016 sterf.  Vir hom is dit ‘n onvergeetbare en erg hartskeurende ervaring gewees en bly die hartseer en diep verlange na sy ma, hom elke dag by.  Rudi Claase, een van Suid-Afrika se bekendste liedjieskrywers, het Riaan se Facebook plasings oor die tydperk dopgehou en dit het hom geinspireer om ‘n liedjie, “Die Boek”, te skryf wat Riaan opgeneem het as herdenking aan sy ma. Die liedjie se lirieke vertel hoe moeilik dit is om ‘n gedeelte van jou lewe toe te maak en word die eerste enkelsnit van Riaan se splinternuwe album, “My Alles”. Hierdié album, wat ook ‘n Afrikaanse duet met Rinél Day, getiteld “Ons Is Liefde” insluit sal teen Junie 2017 in alle musiekwinkels, asook ITunes en Groot Tunes, beskikbaar wees. Hierdie album beloof om sy mees persoonliike album nog te wees! Die rolspelers betrokke is almal vreeslik opgewonde oor die sukses wat hieruit sal stroom.

Verder ná die sukses van Riaan & Rinél se engelse treffers ,”Mi Amore” en “Ons Is Liefde”, het navrae vanaf aanhangers ingestroom met ‘n versoek dat hulle tog ‘n album vol duette moet uitbring.  Die besluit is geneem om hierdie suksesverhaal te laat voortleef en ‘n duet-album sal teen einde 2017 beskikbaar wees.

Soos meeste teen hierdie tyd weet, is Riaan betrokke in verskeie fasette van die vermaaklikheidswêreld en ook bekend as ‘n gewilde tv- en radio-aanbieder. Om daagliks op TV en Radio te verskyn, is al tweede natuur vir die veelsydie kunstenaar. Hy is al genooi as gas op verskeie tv programme wat insluit: “Dis Hoe Dit Is met Steve”, “Roer!”, “JAM”, “Jukebox”, “Toks en Tjops”, “Glitterati”, “Bravo!”, “Reise- en Soetkeise”, “Jakkals Jol”, “Fiësta” as aanbieder en hy was selfs ‘n gasspeler in “7de Laan” in 2013. In 2016 trap Riaan diep spore in die TV-bedryf deur vervaardiger vir twee van kykNET se programme, “Die Groot Ontbyt” en “ChatNOU” te wees.  Hy word ook deel van die aanbiederspan by Die Groot Ontbyt en is daagliks vroegoggend in almal se huise.

Vroeg in 2018 is hy egter weg by GROOT ontbyt en is nou volstoom by Pretoria FM betrokke weer as omroeper waar Riaan duidelik hoort. Gedurende Junie 2018 kry Riaan die geleentheid om ‘n realiteitsreeks vir die TV kanaal VIA aan te bied en te vervaardig met die titel “Hollywood, hier kom ek”.  Hierdie tv-reeks is in Los Angeles verfilm en het die Suid-Afrikaanse span gevolg tydens hulle kompetisie deelname aan die Wêreld Kampioenskap vir Uitvoerende kunste in Los Angeles, VSA.

Dit is duidelik dat Riaan positief, energiek, kreatief en dinamies is. Die wyse waarmee Riaan mense se lewens aanraak, laat sy gewildheid by die dag groei. Hierdié kunstenaar het al diep spore in die musiekbedryf getrap en is verseker hier om te bly. Hy beplan om weer in 2018 by aanhangers van oraloor uit te kom en sien uit na al die optredes wat voorlê!